Wanneer is genoeg genoeg

Ek kyk vanaand diep in my eie siel.
Skaam oor dit wat ek sien.
Soms oordeel ek mense sonder om hulle waarde te ken.
Elke mens het U geskape na U beeld.
Daar is mense wat ander seer maak.
Heer, U ken ook vir my en hoe ek dink.
Ek probeer hard om almal om my in ag te neem.
Soms dink ek aan al die mense wat so sinneloos vermoor word. Maar Heer, wie is ek om te oordeel ?
Heer, wanneer is genoeg genoeg ?
Heer, help my om met Jesus se liefde na almal om my te kyk.
Heer, ons land het soveel slaggate.
Ek bid dat U die mense weer van U asem sal gee.
Heer, ‘n asem van mekaar verdra.
Heer, so min mense gee regtig om vir ‘n ander deesdae.
Ek bid vir mense wat moet steel om aan die lewe te bly.
Mense wat verslaaf is en moor en roof om ‘gevul’ te word.
Heer, U ken hul harte U weet van hul pyn.
Ek bid vir ‘n pragtige land met soveel misverstand en haat.
Waar trek mens die lyn ?
Wanneer geld ‘n oog vir ‘n oog ?
En wanneer vreet die varke jou omdat jy jou met die semels meng?
En wanneer, my dierbare God, moet ons berus omdat die groot vis ons ingesluk het toe ons wou vlug ?
Heer, hoe sal ons tog ooit weet of iemand vir ons gegee is en wanneer is ons vir iemand gegee ? Heer, ek bid vir hierdie pragtige land met soveel geleenthede. Hierdie land wat U aan my gegee het om in gebed aan U op te dra. Amen

Posted in Gedigte.

Leave a Reply