Voor sonop

Vroeg, more oggend, nog voor die son weer in jou woestyn sal begin nes die horison se grys in helder oranje verander
die oomblik wanneer die nag se koue fyn doudruppels op jou blomme begin vorm luister dan na My stem wanneer Ek jou naam oor die kranse uitroep Volg die skadu van die wolk wat Ek vir jou sal stuur
stap noukeurig op die rotsbanke, wat Ek spesiaal vir jou gepak het Vroeg more oggend sal Ek ‘n valk met boodskap vir jou stuur. Wees behoedsaam, want daar is mense wat jou van My genade wil weerhou kyk uit vir valse vriende wat jou om die bos wil lei.
Volg My voetspore teen steil kranse uit,
trap versigtig om die dorings te mis,
wees nie bevrees wanneer die pad onbegaanbaar lyk
Hou jou oë op die horison gerig
Hou jou doof vir die wat jou onder wil hou
Help die op wat jy langs die pad op ‘n klip sien sit
Slaap rustig vanaand en rus goed uit, more, voor die horison sy grys verdwyn, sal Ek jou naam op die rotse skryf,
Onthou My, geliefde, onthou My naam, onthou My genade,
Jou gebede het Ek in jou siel kom blaas,
jou dialoog het Ek lankal vir jou toneel neergepen.
Raak nou rustig, want more kom wys Ek jou die pad.

Posted in Gedigte.

Leave a Reply