Verbode liefde 

Ek sien die maanlig wat jou lippe liefkoos, 

en ek wens dit was my lippe op joune.

Jy sit so eenkant, jou rug gesteun teen die stam.

In helder maanlig volg ek die skoonheid van jou lyf.

Ek trek jou beeld af in die skoon blaaie van my siel.

Ek wens ek kon nader kom om in jou oë te kyk.

Sou dit die water se weerkaatsing in jou oë wees,

of is dit trane van hartseer wat teen jou wang afloop?

Dit sou maar ‘n paar tree wees om tot by jou te kom.

So graag wil ek die een wees om my arms om jou te vou.

Hier in die maanlig lyk jy soos ‘n godin.

En ek is maar net ‘n gewone man.

Vir ‘n oomblik dwaal jou oë in my rigting.

Maar dis net van kort te duur.

Vanuit die hoek van my oog sien ek hom nader kom.

Al is hy die rede vir jou trane,

Al hou hy jou nou vas,

met dieselfde hande wat jou netnou so hardhandig geruk en pluk het.

Is ek aan jou onsigbaar.

Want die houvas wat hy op jou het,

dra jy saam in die vorm van sy kind.

Wie is ek om jou uit sy hand te kom red,

jy met die hartseer glimlag onder jou pet.

Wie is ek om hom te oordeel,

as jy net die goeie in hom wil sien.

Jy, die girl in die maanlig,

wat nou in my siel geweef is.

Posted in Gedigte.

Leave a Reply