U genade

Heer, dis so ongelooflik vir die mensekind om U genade te verstaan of beskryf. Klein dingetjies wat ons nader aan mekaar kan bring of verdryf. Alles hang af of U in ons siel leef en of ons maar net van dag tot dag bestaan. Heer, U genade is so vêr van dit wat ons verstaan.
Die mensekind is so klein in ons gedagtegang.
Die kleinste skudding in ons eie wêreldjie maak ons bang.
U is die Alfa en die Omega, U werke is so vêr verhewe van ons denke. Heer, help ons om ten volle op U te vertrou.
Solank ons kan asem haal, Heer, laat ons U lof besing.
Dis soms so moeilik vir die mensekind om ten volle aan U oor te gee. Ons wil self in beheer wees, self ons sake reël.
Heer, U genade is ‘n kleine kindjie wat braaf en vol vertroue op genesing wag. U genade is ‘n ouer wat voor die graf ‘n moordenaar kan vergewe. Genade is ‘n enkele sonstraal wat deur die donderwolke breek. U genade is elke keer wanneer ons kan sê “Ek het jou lief”.
Heer, daar is altyd hoop.
Solank ons verby die berg kan sien.
Daar is altyd hoop solank ons op U kan vertrou.
Heer, raak die mensdom aan en bring weer die goeie terug in die wêreld. Heer, genade is Jesus Christus wat in ons plek gesterf het.
Genade is die dood wat U vir ons kom oorwin het.
Heer, dankie vir U genade.
Dankie dat U ons vergewe.

Posted in Gedigte.

Leave a Reply