Opgesluit in jou gedagtes

In gedagtes opgesluit, woorde en seer verberg van ander,
geraamtes en spoke wat jou vasdruk.
Die son se strale speel wegkruipertjie, soos die antwoorde waarop jy wag Raak weggevoer in die mooi wat om jou is.
Jou lewe is anders, want jy is spesiaal, anders.
Vir My is jy ‘n uitsoekkind, tussen die rowwe klippe en kranse gebytel en gekap. Jou siel is aan My bekend, jou drome gee Ek vir jou.
Deur die stil trane wat jy na binne huil kronkel die heelmaak en aanvaarding. Raak rustig, My rowwe diamant, en weet dat Ek jou nog nodig het en gebruik. Moet jou nie blind staar teen die geweld en seer om jou nie. Hou op om jou antwoorde in ander se pyn te soek.
Weet dat Ek jou styf teen My vashou en jou altyd in My hart dra. Luister na My stem wat jou wil troos en verseker van My liefde. Ek het jou geskape vir My doel.
Jy is net Myne.
Wees dus nie meer onseker oor hoekom en waarom.
Vra nie meer in jou woede jou vrae.
Jy is vir My spesiaal.
Ek gee vir jou die krag.
Wees nie bang om jou liefde ten volle te gee vir die wat Ek op jou pad plaas nie. Laat jou geliefde jou seer saam met jou dra.

Posted in Gedigte.

Leave a Reply