My geliefde aalwyn

Dit is hier, so hoog bo alle denke,
met net die wind in my ore,
al die gajaagdheid van my elke dag.
Dis hier wat jou stem die hardste tot my skree.
Ek staan op die rand en dink:
as dit net moontlik was,
as ek jou net hier in my hande kon neem en teen die afgrond afgooi. As ek net kon sien hoe die stukke onthou, soos klei teen die rotse kon oopbars. Maar jy kleef aan my.
Soos ‘n tolbos het jy jare gelede tot teen my bene vas gewaai. Soos ‘n aalwyn het jou fyn worteltjies die krake in my rotshart ontdek. Jy het my laat lag en ek het stadig warm trane oor jou verlang. Jy het gebly.
Elke dag jou water uit die moskant van my hart gedrink.
En na baie jare se anderpad kyk en stil verlang
het jy my in bospad weer raak geloop
Jy was verweer en stukkend getrap
Saam my sou jy nie so verniel het nie
My vertroeteling en troos het jou staande gebring.
Hoe moet ek jou eenkant toe skuif?
My geliefde aalwyn wat so hoog teen hierdie rotse moet bly
My omarming is nie vir jou beskerming
Teen die wind in sal niemand my krete hoor.
Hier bo op jou rotsbank sal ek die kilometers inkyk.
Jy, my verweerde aalwyn, met jou pragtige blomme van omgee.
Jou nektar sal my soos die suikerbekkie lok en laat pronk,
Wat jy van my benodig sal ek met liefde gee,
want jy voed my siel en bring my tot hierdie hoogte
hier bo waar ek moet stadiger en niemand my krete hoor.

Posted in Gedigte.

Leave a Reply