In die skemer

Die helderblou lug begin plek maak vir die skemer.
Die vêr horison se kleur verander by die minute.
Tekens van die verandering is sigbaar om my.
Die natuur berei haarself voor vir die donker nag.
Iewers in dit als dink ek aan jou.
Ek wonder of jy iets aan het teen die koue nag.
Ek wonder of jy die kletter van die vuurtjie kan hoor.
Die gloed van die vlamme speel om jou gesig.
Die warmte daarvan keer die koue in die skemer wat kom.
My woorlose gebed vir jou speel saam met die vlamme.
Iewers vanuit die flou lig kom die naggeluide nader.
Jou stem hang in my gedagtes soos die donkerte.
Jou glimlag verhelder my gemoed soos die laaste sonstrale.
Jou vriendskap verhit my binneste soos ‘n stomende koffetjie. Die skemer is minder skrikwekkend saam met jou.
Die kleure wat die lug verkleur is my gedagtes van jou.
Die skemer is ‘n belofte dat jy weer in die oggend sal kom.
Die tjank van ‘n jakkels versteur die stilte, ‘n roep na ‘n maat. My hart mis ‘n klop op daardie oomblik.
Want ek besef jy’s nie hier saam met my in die skemer om die vuur. Die klamheid van die wintersnag kleef aan my wang.
‘n Uil se “hoe…hoe…hoe…” word ook my treur sang.
Nog ‘n stomp op die vuur,
nog ‘n alleen oomblik om te verduur.
Eers net ‘n rokie soos dit op die vuur val,
eers weer ‘n traan om op die grond te val.
Ek blaas om die rook ‘n vlam te laat word,
‘n sug ontsnap my lippe, dalk sal die swaar ligter word.
Jou liefde omvou my soos ‘n groot jas.
Ons saamwees oomblikke bêre ek in my reistas.

Posted in Gedigte.

Leave a Reply