Het liefde dan opgehou?

In die stilte hoor ek net jou asemhaling.
Ek is bly jy’s nou rustig,
dis wanneer ek kan ontspan.
Jy lyk so onskuldig wanneer jy slaap,
dan kan ek ook in jou glo,
soos die mense wat net jou maskerkant ken.
Die een waar jy altyd so liefdevol met my praat.
Die breë glimlag wat jou woede woorde bedek.
Niemand sal my glo dat jy my so rond ruk nie.
Niemand sien die gate in my siel,
daar waar jou woorde soos messe deur my steek.
Ek wil jou so graag nog liefhê,
ek wil jou so graag vasdruk en my hart weer heel.
Al wat ek deesdae vir jou voel is minagtig.
Al wat oor is van die mens,
wat jy belowe het om te beskerm,
is net die buitekant wat ek probeer aan mekaar hou.
Die letsels in my siel word verberg deur vrees.
Die blink in my oë is ‘n weerspieëling
van die donker in my siel.
Ek kan  jou nie weg gooi want iets in my bly hoop.
Ek weet die Here hoor my rou snikke.
En ek weet Hy sal jou siel ook weer versag.
Jy praat nie meer met my,
jy deel nie meer jou vreugde.
Net jou pyn kom lê saam met jou woorde op die krop van my maag.
Net jou haat kom in alleen-oomblikke,
en dwaal oor jy moeë liggaam.
Met my laaste krag bid ek vir jou geneesing,
want ek smag na jou liefdevolle aanraking.

Geskryf deur Amanda Boucher opgedra aan al die mense wat deur hul geliefdes mishandel word. Jy mag dit deel maar onthou asb dit kopiereg bly myne. Mag hierdie gedig die wat dit lees aanraak  en dat hulle die nodige hulp sal aanvaar om weer liefde te gee vir die mense om hulle. Let asb op dat die gedig nie op my en my manlief gerig is nie. Ek is die Here elke dag dankbaar vir die lewensmaat wat Hy aan my toe vertrou het.

Posted in Gedigte.

Leave a Reply