Gypsy

Stadig draai sy al om jou. Dansend. Verskuilde gesig deur hare wat los om haar gesig vou. Al draai sy in die rondte voor jou is haar oë telkemale soos magnete op jou gefokus. Die vuur in haar siel brand tot in jou. Verwarm jou eie moeë siel. Haar heupe nooi jou om daaraan te raak. Die musiek. Die dowwe lig. Die spel van haar gipsy liggaam. Die onvermydelike onbekende. En jou eensame hunkering. Haar boedings is bloot net gebore uit haar eie hunkering. Haar bekoring vir oorwinning. Haar hand raak sag oor jou wang. Die bewegings van haar rondings so naby jou. Maar net so vinnig draai sy weg. Die geur van haar beloftes wolk om jou. Dring diep in jou wese in. Nog bedwelm deur haar aanraking soek jy haar oë deur die dowwe lig. Dan voel jy haar hand op jou skouer. Haar elektriesepols ruk deur jou liggaam. Verlam jou sodat sy jou volkome in haar mag het. Jy wil omdraai. Teen haar liggaam staan. Die musiek deur haar voel vloei. Maar haar hipnose het jou tydelik verlam. Jy word bewus van haar lippe so naby joune. Jy wil haar liefkoos. Maar sy’s reeds weer verder weg. Besig om haar web nouer om jou te span. Die musiek. Die dowwe lig. Jou eie eensame hunkering. Onbereikbaar. En tog is sy in jou siel. Vêr buite jou bereik. En tog is sy verewig in jou drome. Haar gypsy spel uit haar siel gebore. Diep verborge vir die daglig. Dwalende van een hunkerende siel na die volgende. Opsoek na haar eie verdwaalde siel lank reeds van haar ontneem. Vasgevang in ‘n bekoorlike gypsy.

Posted in Gedigte.

Leave a Reply