Ek was daar

Ek was daar die eerste keer toe als begin het.
Die skok en ongeloof in jou oë het Ek aanskou.
Die magtelose traan op jou wang het Ek in ‘n kruik bewaar.
So graag sou Ek jou lewenspad makliker wou maak.
My kind Ek was nog altyd daar by jou in ‘n vorm wat jy kon verstaan. My aanraking was soms in die aanwind wat sag oor jou seer lyf gestreel het. Male sonder tal het Ek geduldig gewag en geluister na jou fluister gebed. My kind Ek is saam jou ook vanaand en deel in jou pyn.
Vat My hand en voel My nabyheid in hierdie uur.
Gee jou pyn en seer vir My want aan die Kruis het Ek dit beleef. Jou pad was nie so maklik soos ander s’n maar dis nou verby. My kind vergewe jouself.
Kyk op na die blink sterre want jy is meer werd as hulle vir My. Kyk na die seesand wat eens magtige rotse was.
Soos hulle is jy deur ‘n ander gekneus en gemaal,
en nou dien jy as herberg vir ander om weg te kruip.
Kyk na die hoë bome wat waai in die stormwind,
soos hulle bied jy beskerming teen die wat Ek onder jou aangestel het. Jy, My kind, is mees kosbaar vir. My as Job.
Deur dit alles het jy My aangeroep.
Haal diep asem My kind, kom rus teen My bors.
Laat los die verlede want dis nou verby.
Ek sit hier by jou, My kind, en Ek deel jou seer.
Dit alles het gebeur as gevolg van ‘n ander se besluit.
Maar nou is dit verby My kind.
Gee dit oor.
Laat los My kind.
Vergewe hom want hy’t nie besef hoe seer en verpletter hy jou maak nie. Laat dit gaan sodat Ek jou kan genees My kind.
Laat vaar die haat in jou hart My kind want Ek wil dit vul met liefde. Gee dit oor aan My.
Ek het aan die Kruis daardie pyn vir jou gedra My kind.
Die tyd is nou om op te staan.
Kyk in My oë.
Lig jou kop op.
Een tree op ‘n slag My kind.
Dag vir dag.
In die nag kan jy teen My bors kom rus.
Luister na My stem en word stil My kind.
Ek sit hier by jou op die punt van die bed.

Posted in Gedigte.

One Comment

Leave a Reply