Ek verstaan jou trane.

Soms wanneer jy voel of jy plat lê en tot niks instaat is, dra Ek jou verder. Soms wanneer dit heeltemal donker om jou is, berei Ek die mooiste sonopkoms vir jou. Ek weet soms voel jy lus om op te gee. En Ek verstaan dit. Ek verstaan wanneer die trane oor jou wange loop. Jou trane vang Ek op om ‘n sagte waterval vir jou te maak. ‘N happy place waar jy kan ontspan. Luister na My stem fluisterend op die nagwind. Volg My na daar waar jy jouself kan wegskeur van die aardse lawaai. Huppel en sing en dans in die voetpad tussen die hoë kranse wat jou beskerm teen die buitestaanders wat jou nie verstaan nie. Volg My woorde wat soos musiek deur die varingblare, soms dawerend en soms sag, speel. Hou jou oë op die horison, want Ek los altyd vir jou ‘n verrassing. Soos ‘n skoenlapper wat dans in die gras. Of ‘n pasgebore bokkie wat, soos jy, nog wankel op sy nuwe beentjies. Soms laat Ek jou rus op ‘n groot klip. In daardie tyd moet jy fyn kyk. En onthou om te glimlag as jy die klein groenwurmpie teen sy fyn sydraaitjie ook na sy onbekende bestemming oppad is. Jy. Die kroonprins. My geliefde mensekind. Staan op wanneer jy reg is om aan te stap. My hart huil saam met jou. Onthou net wanneer Ek jou binnekort kom haal sal jy verlos wees van hierdie aardse pyn en smart. Maar wees gewaarsku en wag geduldig op My. Jou uitkoms is soos ‘n oogwink vir My. En onthou Ek hoor jou sielsgebede. Ek weet van die gedagtes wat geen mens kan sien. Ek is jou God. En jy is My lieflingskind. Wees nie bevrees. Raak stil en wag op My.

Posted in Gedigte.

Leave a Reply