Ek omvou jou

Met My arms om jou gevou, waak Ek deur hierdie nag by jou. Bewus van jou trane, want Ek vang dit op vir My waterval. Jou trane spoel oor jou siel se rotswande; vorm mooi rotsformasies teen die hange. Ek omvou jou met My genade, in hierdie skemer uur van jou. Ek voel jou liggaam liggies bewe, en stuur ‘n lied waarop jy kan dans. Kyk om jou rond en weet, al sien jy net mis, Ek is hier naby jou. Altyd gereed om jou te vang, met ‘n leerskare Engele, om jou te dra. Luister na die treur lied op die aanwind. Teen skemeraand lyk alles bedrieglik, en selfs ‘n helpende hand lyk na ‘n bedreiging. Kom lê hier teen My bors. Kom drink iets teen die dors. Weet dat Ek jou nooit sal verlaat, jy, My geliefde kind, lê My na aan die hart. Wees stil, want Ek is hier. Ek ken die benoudheid van jou donker uur.

Posted in Gedigte.

Leave a Reply