Ek ken nie eens jou naam

Ek onthou ‘n dag in my lewe.
‘N kortstondige oomblik vergeleke met die res van my dae.
Daar in Meiringspoort, omvou deur die grootsheid daarvan.
Verstom oor die smal pad, ingedruk tussen die hoë rotswande. En skielik om die draai verskyn die man.
Sy liggaam gebrei deur die son en weer.
En ek ken nie eens sy naam.
Ek onthou sy glimlag.
‘N vriendelike groet.
Waar kom jy so skielik vandaan ?
Waarheen is jy oppad ?
Al jou besittings in een bondeltjie oor jou skouer.
Is daar mense wat daagliks vir jou bid ?
Of was jy net ‘n engel om my te toets ?
Was jy net ‘n skim om my te laat dink ?
So uit die berg het jy verskyn.
Die man in Meiringspoort.
‘N verlore siel oppad reis na nêrens.
En ek ken nie eens jou naam.
Jou beeld sal ek onthou.
Geleen van my eie oorlede vader.
Was jy maar net ‘n skim om my te toets ?
Onthou jy ook daardie dag ?
Het dit jou ook geraak ?
Die man in Meiringspoort.
En ek ken nie eens jou naam.

Posted in Gedigte.

Leave a Reply