Einde van ‘n hoofstuk

Sag soos die môredou streel Ek oor jou.
My aanraking liggies, sodat die varingblare net effe roer.
My koel bergwater stroompie laat Ek deur jou dorre aarde loop. Voed die blomwortels wat jou staande hou.
Hier waar Ek jou dra is jou bosvloer onversteurd.
My fluistering met trooswoorde kom soos die herfsblare in volle kleur om die einde van hierdie hoofstuk aan te kondig. Wees tog nie bevrees, My geliefde kind.
Vir nou mag dit dalk voel of die nagte donkerder en kouer is. Vir nou mag dit vir jou voel jou gebede eggo onbeantwoord terug na jou. Maak jou oë toe, My kind, en rus.
Luister na My rustige hardklop en weet als is okay.
Want binnekort sal die son se warm strale jou kom wakker maak. Binnekort sal die swaeltjies weer by jou ‘n nessie kom bou. Maak net jou ogies toe vir nou. Kom rus hier teen My bors.
Voor jy weet is die lente terug. Dan groei die gras weer daar waar ander dit kom dood trap het. Binnekort My geliefde kind, is die nuwe hoofstuk aan jou ontbloot. Maar vir nou moet jy rustig wees.

Posted in Gedigte.

Leave a Reply