Dalk

Woorde is al wat ek het maar wat help dit.
My gedagtes dwaal telkemale terug na jou.
My glimlag vorm omdat jy weer iewers aan my siel se mure raak. Na buite kyk ek afwagtend op vir wanneer jy by my verby loop. Dalk sal my hand per ongeluk aan jou kan raak.
Dalk sal ek ‘n sekonde in jou oë kan kyk.
Dalk, net dalk sal ek iets daarin kan lees.
My hartklop word deur jou glimlag bepaal,
jou voetval voor my maak my blind vir wat om my aangaan
Blind vir die verlede en doof vir goeie raad,
volg ek blindelings in die spore wat jy op my maan maak
My vinger speel teen jou buitelyn wat ek uitknip om op my spieël te plak Saam met die musiek is my besem jou kersregop lyf in my omarming laf lag ek sonder die ego van jou lag in my ore
dol verlief op ‘n skim
Simpel in optrede wanneer jou stem op die wind my ore bereik Sal jy dalk tog verstaan?
Iets uitmaak in my agterstevoorom gebabbel?
Sal jy die verlange in my afgewende oë kan sien?
Dalk, wie weet, dalk eendag sal jy my hartklop kan voel
Net dalk sal my voete regtig joune in ‘n slowdance volg
Dalk, eendag, sal dit jou hand wees wat deur my hare streel
Maar nou is jy net my skim
Net ‘n glimlag wat soms oor my lippe speel.
‘n Effelig wat in die donker kamer van my siel blink
Net ‘n droom wat my daagliks laat opvlieg in die hoop van dalk…

Posted in Gedigte.

Leave a Reply