Oor die rand

My oë kyk ver oor die rand, ek wonder wat wag aan die ander kant. My gedagtes dwaal terug na al ons tye saam. Ek wonder watter tye onthou jy. Glimlag jy ook as jy stilstaan by ons fun tye. Vergeet jy ook liewer die minder aangename oomblikke. Dit maak nie saak wat vir ons wag, jy en ek sal saam daar deurkom. Deur geloof sal ons die regte dinge doen. In gebed mag ons vra vir ‘n uitweg. Jy en ek en ons twee saam. Ek’s so bly jy is my liefling, want saam met jou kan ek myself wees. Ek bid dat jy sal luister na jou opdragte deur die Gees. Ek bid dat jy sal sterk wees om my te beskerm. Ek bid dat jy myne sal bly, want sonder jou is ek net half. Sonder jou is ek ‘n dwalende siel. Ek bid vir jou my liefling. Jy is my alles.

Tornado

Jy draai en kolk en saai verwoesting Wat jy aanraak breek en skeur in duisende stukkies. Jy word gevrees deur baie mense. En tog is jy net wind… Tog staan mense weer op, al sien hulle die verwoesting wat jy gelos het. Bang en verwese, hande-vier-voet. Gebroke en stukkend. Maar tog staande. Here, ek pleit by U. My wese is gebroke. Hoor my hulpkrete deur hierdie nag. Heer, laat my weer opstaan. Hierdie tornado mag my nie wen nie. Dis net tydelik, en tog seer. My trane brand oor my wang. Hierdie tornado het my ‘n oomblik gestuit. Maar, Heer, U is genadig. U sal die uitweg bring. U is my rotsvesting.

Om jou

Die wasem teen my siel se ruit, kruip op tot hoog teen die dak. Ek trek ‘n hartjie met my vingerpunt, my glimlag is effe, net genoeg om die pyn te verlig. Die gat is groot, wat jou weggaan gelos het. Die koue nag wind huil treurig daardeur. Ek voel die kloue van die aasvoëls wat elke stukkie vleis uittrek. Die vloer is koud waarop jy my laat lê, ek hoor steeds die laaste woorde wat jy sê: Ek gee nie om wat van jou word. My hande skryf die woorde, oor en oor, op my geheue se groot swartbord. Ek wil jou haat, want jy het my hier kom agter laat. Maar hoe vergeet ek jou? Hoe vergeet ek jou glimlag? Hoe vergeet ek jou? Jy’t my jou alles kom wys: En nou betaal ek die prys. ‘n Losprys wat my vir altyd gevange sal hou. Hoe kon ek dit weet? Nou moet ek jou vergeet? Dis koud hier op die vloer.

Onrus

Ek weet van die brandende onrus in jou gemoed. Ek hoor jou stil gebede wanneer ander jou glimlag sien. Ek weet van die pyn waardeur jou liggaam daagliks gaan. My kind, weet dat Ek by jou staan. Voel My aanraking wanneer jou liggaam liggies bewe. Sien die wolke wat oop trek bo jou geboë kop. Kom sit hier by My. Laat jou voete rus vind op die gras voor jou. Laat die golwe van die see jou rustig maak. Laat die sterre jou oë verhelder. Ek weet jy voel of Ek jou verlaat het, maar jy is My lieflingskind. Kom skuil hier teen My bors. Kom droog jou trane teen My skouer. Luister na My troos woorde. En weet dat jy nie alleen is.

Sommer net jy

My gedagtes dwaal rond opsoek na iets; iets wat my siel weer sal kan wakker maak. My gedagtes tuimel oor watervalle, plas in poelle waar jou amrs my regop hou. Op die hoogtes van jou stemtoon, kyk ek voor my uit. Jy, met die glimlag wat my siel verwarm. Jy, met die antwoord op elke dom vraag. Ek sien deur die varingblare jou skimmebeeld. En ek wonder, dink jy ook soms terug. Verlang jy ook na die dae toe ons net ontmoet het. Dae van lank gelede fladder hul skoenlapper vlerke om my. En ek glimlag stil, dan voel ek jou arms om my. Jou fluisterstem doof die waterval se gang wat my wil verdrink. Waarom soek my siel na iets spesiaal terwyl jy hier reg langs my is? Saam met jou is ek nog steeds in ‘n wonder wêreld, gevul met liefde en spesiale onthou oomblikke. Jy is my alles. Net wat ek nodig het.

Russian Roulette

Nog ‘n storie word gespin, nog ‘n game word begin. Die nagstilte word verbreek, weereens word ‘n belofte verbreek. Sy verslawende aantrekkingskrag, verander vir haar die nag. Sy weet sy speel met vuur. Nog ‘n sekonde-besluit word ‘n uur. Haar hande weet waar om te vat, sy liggaam trek haar nader. Die koue van die dag word gou vergeet, maar sy weet: Sy speel russian roulette. Elke keer wanneer sy ‘n storie spin, elke keer wanneer ‘n nuwe game begin: Sy adrienalien klop tot in haar binneste sy ken die gevaar tekens. Elke keer wanneer sy die deur agter haar toe knip, weet sy sy’t die sneller gewen. Nog ‘n keer is sy nie uitgevang, Hierdie russian roulette, maak haar telkens minder bang. Maar sy weet, die tyd is min.

Donker nag

Wanneer die nag verdonker en stilte verskeur word, deur slagspreke en haat, dan mag dit voel asof Ek jou verlaat het. Wanneer jou huis brand en geloof verplunder word, mag jy dink jy staan alleen. In die donkerte van die nag sien jy net die skimme van die verlede, wat weereens oor jou land beweeg. Ek is steeds die God wat jou sal bystaan. Ek is steeds die God wat jou voorvaders gelei het. Die ware stryd is steeds in die Gees. Ook vandag is dit steeds belangrik vir jou om waarlik op My te vertrou. Sommige dinge wat jou nag verdonker kan ook eendag ‘n lig vir jou aansteek. Ek verstaan dat jy moedeloos voel. Maar moet My nie wegstoot uit jou lewe. Moenie toelaat dat jou siel verskroei. Haal net diep asem al voel jy die pyn in jou bors. Sluit net ‘n oomblik jou oë en sien My wakend oor jou. Raak net ‘n oomblik stil en hoor My trooswoorde.

In jou oë

Wat ‘n wonder om in jou oë te kyk: kleure wat so na aan die aarde is. Blou water van ‘n stille see. Ek voel veilig in die diepte van jou arms. Stadig, soos die kroonblare van ‘n pragblom, het jou liefde my omvou. Deur jou oë sien ek weer myself. Ek onthou weer wie ek eintlik is. Jou glimlag laat val die staal mure om my. En wanneer jy lag vir dit wat ek sê, voel ek nie skaam nie, maar lag net lekker saam. Deur jou oë sien ek weer die kurwes aan my lyf. Soos ‘n jong meisie huppel ek deur die oerwoud om my. Deur jou oë sien ek die lig wat my pad verlig. Sommer so, sonder dat ek dit verdien, kom verander jy my nag na dag. Deur jou oë sien ek weer kans vir die lewe.

Luister met aandag

Met elke druppel reën wat op die veld plof, is Ek intens bewus van watter blom dit gaan aanraak. Met elke saadjie wat uit die sy omhulsels bars, weet Ek reeds watter een word voeding en watter een gaan blom. Dink jy nie Ek sal soveel meer weet waarheen jou pad lei? Besef jy nie hoe intens Ek jou lief het nie? Daar is vele dinge wat Ek jou wil weerhou: Goed wat mense van jou kwyt raak, omdat hulle jou nie ken nie. Spreuke wat mense oor jou lewe spreuk, omdat hulle jaloers is op jou. Ompaaie wat Ek van jou wou verberg, maar jy moet ongelukkig daar staan. My geliefde kind, Ek verstaan jou pyn, jou eensaamheid, jou verdriet. Klou net vas aan jou waardes en wie Ek jou gemaak het om te wees. Leer om te luister na My roepstem. Hou vir ‘n oomblik op om te beklei, dan sal My aanraking sag wees vir jou. Hou ‘n oomblik op om te huil, dan sal jy My stem kan hoor. My geliefde kind, Ek verstaan jou kruis is swaar en pad is vol opdraande, maar lig jou kop op en sien die tekens wat Ek jou stuur. Hou jou doof vir die wêreld en luister na My. Ek neurie vir jou ‘n slaaplied in die kabbelende stroompie. Ek stuur vir jou trooswoorde in die huilende wind. Wees net sterk, My geliefde kind, Ek is naby.

Ek dig vir jou

Ek het nie ‘n hartseer storie om jou te vertel, maar ek weet Jesus gaan my vooruit. Ek was nie in ‘n ongeluk waar ek ledemate verloor het nie, maar ek was al beskerm sodat ek nie te see kry nie. My gedigte word nie gebore uit ‘n hartseer verlede, maar ek probeer om jou hartseer in woorde te omskryf. My bankrekening loop nie oor sodat ek vir jou kan gee nie, maar ek wil jou siel verryk. Daarom besing ek God se wonderdade. Dis hoekom ek vir gebede stuur om jou op te bou. Ek is te ver om jou ‘n drukkie te gee. Ek weet nie eens waarheen jy gaan. Maar ek skryf vir jou : Dalk gee dit jou ‘n rede om te glimlag. Dalk help hierdie woorde jou deur die dag. Of miskien was dit nie vir jou bedoel. Hoe dit ook al is; ek skryf vir jou.