Al lagend

Rond-om-talie tiekie-draai. Ek voel die wind wat deur my hare waai. Die klank van jou skaterlag: jy weet dit maak my dag. Saans, wanneer my gedagtes my wakker hou, dink ek altyd net aan jou. Jou woorde dra my ver bo my eie krag; tot daar waar die arend op my wag. Soos die gevoelens oor my spoel, verstaan ek weer wat jy bedoel: Tussen mos en seesand, dwaal ons voete op dieselfde spoor. Tussen vashou en laat los; bly ons oë op môre gevestig. Op die paadjies, onder koelteboom rustigheid, sal ons asemhaling eers later weer rustig word. Die stilte word deur ons opwinding verbreek, terwyl ons, soekend, mekaar bly vind. In ‘n oogwink kan alles weer verander, maar vir nou sal ons skaterlag, swyend rond-om-talie-draai.

Naby jou

Ek sien die traanstreep wat jou wang nat hou. Ek hoor elke snik wat jou in die nanag geselskap hou. En ek wens ek kon net weer aan jou raak. Weer ‘n flou grappie met jou maak. Ek wens ek kon vir jou sê: die afskeid is van korte duur; maar jy weet mos: ons ken nie die tyd van ons laaste uur. Maar ek is steeds naby jou, al kan ek jou nie meer vashou. My gebede is steeds tot ons Vader om jou krag te gee. My gebede is steeds gerig om saam te gaan op jou weë. Dalk sal die paar woorde jou weer nuwe moed gee. Dalk ‘n wysie en ‘n huppel of twee. Wees tog nie meer so hartseer oor my heengaan. Staan op en begin, stadig vir nou, in jou eie nuwe baan. Maar onthou om te glimlag as jy weer aan my dink. Kyk op, en waai vir die steeretjie wat vir jou wink. Jy sal altyd my geliefde wees. Maag jy troos vind in die paar woordjies wat jy lees.

Vrou wees

Jy is nie net ‘n mens nie: Jy is vrou. Wees sag vir jou man. Sag om na te kyk sag om te bereik sag sodat hy tot bedaring kan kom. Wees sterk vir huis. Sterk sodat almal daar kan skuil, Sterk sodat jy almal by mekaar hou. Sterk sodat hulle God in jou kan sien. Onthou net: Soms mag jy ook huil soms mag jy ook skuiling soek soms het jy ook hulp nodig. Voel vandag weereens God se goedheid en guns. Jy is vrou. Laat jou lig skyn waar jy gaan. Glimlag, want jy is spesiaal. Staan weer op vandag. Jy is vrou. Dien en dank ons Hemelse Vader vir Sy genade. Geniet jou vrouwees, want jy is pragtig.

Elke dag

Elke dag gee Ek jou ‘n nuwe prentjie om te onthou. Party is mooi soos ‘n rustige waterstroom: ‘n plek waarheen jy kan vlug as jou probleme te veel word. ‘n Plek waar jy jou voete kan neerlê en net rustigheid kry. Soms is jou prentjie gevul met donker wolke: daaruit moet jy leer om jou oë te sluit en op My te vertrou. Somstyds sal Ek vir jou iemand stuur: ‘n persoon wat jou verstaan en jou sal rustig maak. Onthou jy nog die druppels op die blare wat jou aan trane laat dink het? Onthou jy nog die reënboog wat jou laat besef het: Ek’s nog altyd by jou. Wees tog nie so bevrees oor die dag van more. Wees tog nie so hard op jouself. Kyk uit vir jou volgende vrolike prentjie. Luister na die geluide wat jou hardklop sal verstadig. Luister na My woorde en hou jou doof vir dit wat jou bang maak. Ek is jou God. Die Vader wat jou in My handpalm sal hou.

‘n Wolke boodskap

Ek kyk op na die wolke, afwagtend op U koms. Soms lees ek ‘n boodskap van hoop, in die eerste somer reën wolkies. Ek glimlag vir die mooi in U kunswerke: funny vorms en soms oulike diertjies. Soms raak ek stil voor U almag en krag. Maar altyd lees ek ‘n boodskap van hoop. Altyd bring U liefde en genade ‘n traan in my oog. Om te weet dat U my, ‘n nederige mens, so lief kan hê. U voed my siel wanneer U die lug so skilderagtig inkleur. U voed my hele wese met hoop wanneer die reën sag in die grond plons. U genade is soveel grooter as ons probleme. U manier van werk is soveel anders as wat ons verwag. Ek kyk altyd op in die lug, afwagtend op U koms. ‘n Wolk bring soveel vernuwing in ons lewe. Die belofte van reën wat alles kom skoon was. Die wete dat U oor ons waak en nuwe lewe bring. Soms raak ons bang wanneer die onweerswolke saampak. Maar alyd is U in beheer. U plan is aan ons onbekend. Maar U genade sal ons dra tot daar.

Gevange

Terwyl jy jouself gevange hou, terwyl jy treur en hartseer is. Terwyl jy twyfel of jy goed genoeg. Wag Ek vir jou met ope arms. Ek sien die reënboog in jou nat oë. Ek wag vir jou, My kind. Alles het Ek reeds vir jou voorberei. Die klippe is Ek besig om een vir een weg te skuif. Mense is Ek reeds besig om voor te berei. Iewers is 'n ander se planne ook aan die verander. Staan op en wees nie bevrees nie. Kyk om jou rond en raak rustig. Jy is Myne want Ek het jou gekies. Weet dat Ek jou altyd lief sal hê. Weet dat Ek jou belange op My hart dra. Wees nou rustig, My kind. Jou omstandighede sal binnkort verander.

In My arms

Kom rus hier teen My bors, rus jou kop in My nek. In My arms sal jy My hartklop hoor, soos die klank van perde wat galop. Die sonskyn sal jou siel verwarm, en jy sal weet jy is nie alleen nie. Luister na My stem wat deur die blare ritsel. Raak stil My kind, Ek is reeds by more. Al jou gebede is aan My bekend. Ek weet jy sien nie nou die uitweg nie. Ek verstaan jou opstand en ongeduld, maar My plan is reeds neergepen vir jou. Staan vas want wanneer My planne in werking tree, hoef jy net dankbaar alles in te neem. Die ander dinge is reeds besig om te verander, en binnekort sal dit jou beurt wees. Hou net die pad dop, binnekort sal jy die afdraand kry. Lig jou kop op en kyk die mense om jou in die oë. Wat hulle sê of dink is van geen belang. Jy is Myne en Ek ken jou. Kom rus hier in My arms. Laat My asemhaling joune verrustig.

My rotsvesting

Soms staan mens op ‘n kruispad jou voete wil net aanhou stap jou arms beduie elkeen in ‘n ander rigting. Jou oë sien iets wat jou hart raak, maar jou gedagtes hou jou terug. Waarheen sal jy dan tog gaan? Wat word van jou verwag met die baie mense in jou lewe. Elkeen dink hulle weet beter. Heer, raak elkeen aan wat vandag so voel. Maak hul gemoed rustig en kalm. Waar U teenwoordig is gebeur dinge wat mense nie verstaan. U laat berge in die see tuimel. U stem laat die aarde oopskeur. Heer, ek bid vir elkeen wat vandag op ‘n hopie lê. Raak hul oë aan om die oplossing te sien. Raak hul ore aan om U stem te hoor. Raak hul verstand aan om die regte besluite te neem. Heer, U is my rotsvesting en my toevlug. Heer, dankie vir die voorreg om U te mag dien.

Sonskyn

Die hitte van jou sonstrale dryf stadig deur my are ek voel elke aanraking waar jou vingers oor my gly. Stadig begin ek ontspan. Nog versigtig, dalk verbeel ek my net. Dalk is jou glimlag nie vir my bedoel. Dalk sien ek dinge wat nie bestaan. My gedagtes raai my af om bly te raak, laat my onthou hoe dit voorheen was. Ek wil glo dit sal die keer anders wees. Maar ek kan nie. Jou woorde bring my ‘n oomblik terug na nou, ek voel veilig soos jy my vashou. My liggaam ontspan vir ‘n oomblik, neem die hitte van jou beloftes op. Geniet die aandag wat jou lippe aan myne gee. Dis tog net ‘n oomblik, dis tog net vir nou. Ek sal my oë toe hou, want dan leef ek in ‘n droom. My gedagtes sal ek verwyder en gesluit hou. Vir nou wil ek net hier wees. Hier waar jy my ontvoer. Hier waar niks anders saak maak. Ek het nodig om jou hitte teen my te voel. Ek het nodig om ‘n klein stukkie son in my gedagtes te vertroetel. Eendag, wanneer die koue weer kom, kan ek my weer verbeel. Dalk sal die bietjie son dan weer my bene opwarm.

In U genade

Al staan ek hier, met ‘n afgrond voor my, al voel my bene bewerig al wil die donderweer alle klanke om my verdoof: steeds sal ek juig, steeds sal ek bid, steeds sal ek onthou. U is my God, U is my begin en einde. U is my rotsvesting. My dankbaarheid sal jy lees in my gedigte. Die son se warmte sal jy voel in die beskrywing. God se genade sal jy besef soos jy verder lees. Soms gebeur dinge wat jy nie kan verstaan. Soms verander jou hele lewe in ‘n oogwink. Maar altyd, altyd sal God ingryp wanneer jy nie meer kan nie. Dankie Jesus vir U alomteenwoordigheid. Dankie vir U groot genade.