Jou omgee verlig my.

In die donker, soekend,
my liggaam willoos gespartel.
Niks sal my uit die gat kan kry.
Geen lig sal hierdie donkerte ophelder.
Op verloor se vlakte is die reën koud.
Met my hande in my hare, moedverloor,
word ek bewus van iets.
‘n Warm hand teen my wang.
Iemand gee tog om oor my.
Iemand stel tog belang.
My wese stry tog teen jou.
Niemand gee tog om vir my,
waarom sal jy jou tyd mors met my.
Ek hoor jou lag die volgende dag.
Ek hoop jy sal my weer kom opsoek.
Dalk sal jy my tog kan red.
En wanneer die son my weer kom wakker maak,
is my verbasing groot.
Jou arms is steeds om my gevou.
Die lig wat in jou skitter laat my weer glo.
Vir nou sal ek jou hitte deur my are laat vloei.
En dalk, more vir nog ‘n grappie lag.

Wees Net Stil

Wanneer die stilte van die oggend nog oor jou hang
terwyl die rooi van die dag nog seëninge belowe
soos die ure nog beloftes inhou
dis wanneer My stem deur die blare aangeritsel kom
dis wanneer Ek jou nog ‘n laaste kus toevoeg
dis wanneer Ek My gedagtes in jou hart kom plant
Wees nie bevrees wanneer jy My aanraking voel nie
Luister na My stem en volg My voetval
Gee vandag weereens jou probleme vir My
Vra My hulp waar jy twyfel voor ‘n kruispad
Praat met My en hoor My stem
Gaan in vrede vandag My lieflingskind,
want in hierdie oggendstilte lê die belofte van My teenwoordigheid
Raak stil voor die storm wat in jou woed.

Aan my liefling

Met my gedagtes is steeds om jou gevou.
Jou lippe brand nog op myne.
‘n Liefde wat geen gelyke ken.
‘n Liefde wat min mense wen.
Jy is steeds die een wat my laat glimlag,
selfs al voel dit of die wêreld op my skouers rus.
Jou maanlig sagtheid verjaag die donkerte.
Op die rustigheid van jou stoomtrein,
is ons lewensreis ‘n fees.
In jou oë vind ek die rede waarom ek steeds by jou is.
In jou omhelsing vind ek steeds die versekering.
In jou terggees voel ek steeds jou nabyheid.
Jy is die rots waarop my ek bly sit.
Jy is die stroom waarin ek my voete verfris.
Jou lag laat my volg op ‘n  opwindende voetpad.
Dankie vir jou liefde en omgee.
Dankie vir jou liefde.

Krake in my siel

Jou woorde streel oor die krake in my siel,

jou stem spons my moeë liggaam af.

Te moeg om op te kyk,

te stukkend om te sien hoe ek lyk.

Maar jou woorde dra my,

jou hand se aanraking

is my enigste rede om te voel.

Jou warmte kronkel deur my ysland,

stroompies van soet oomblikke,

breek plek-plek deur die kors.

Die lig in jou glimlag bring weer ‘n reënboog,

van vrolike kleure wat die donker minder maak.

Tussen die roggel van my eie kraakende stem,

vind ek weer ‘n rede om in ‘n nuwe toon te praat.

Dalk is daar tog nog hoop vir my.

Net dalk is daar tog ‘n rede om aan jou vas te klou.

Jy gee nie om oor my verlede.

Jy sien nie die vlekke op my klere.

Vir jou is ek die mens wat jy kan dra.

Deur jou oë sien ek weer die mens wie ek was.

Los my nie hier op die verlate plek,

maar neem my saam om by jou aan te sterk.

Verbind my wonde, deur ander oop gekrap.

Maak ‘n vuur met my verbrande as.

Laat my voetval in ‘n slowdance op joune rus,

om so weer, in ritme, my eie deuntjie fluit.

Gooi my tog nie weer vir die wolwe,

maar omvou my in woorde wat die stilte breek.

Glimlag jou stralekrans in my donker put,

tot siel en liggaam weer vereenig is.

Gebed

My gebed in hierdie feestyd is vir vrede en vreugde.
Mag jy die liefde van Jesus voel in jou hart.
As jy verlang na ‘n geliefde wat nie meer jou lewe deel,
as jy nodig het om jouself of iemand anders te vergewe.
Mag hierdie dag weer nuwe krag vir jou bring.
Mag jy verras word deur ‘n ou vriend wat jou weer opspoor.
Heer, ek bid vir elkeen wat vandag ‘n teken nodig het.
U ken elkeen van ons.
Bring die ware rede van hierdie dag na elkeen wat die boodskap lees.
Heer, ek bid vir U genade en liefde in hierdie dag.
Mag jy geseënd wees in hierdie dag.
Baie liefde van Neels en Amanda.

Harmonie

Woorde draai voor my oë verby,
dans op die blare,
al trippelend van tak tot tak.
Op die strale van die maan,
glimlag ‘n vrolike wysie,
al dasende en warrelend om die woorde.
Saam vat hulle hande en buig al grapende vir mekaar.
Maar wanneer die stroompie hulle lei tussen die hoë kranse,
word die atmosfeer intens.
Bewus van hul sielsgemoed.
Bewus van die emosies,
die opgehoopte verlange.
‘n Lied van heimwee en  afwagting,
klink op bo die gekabbel van spelende druppels.
Met eens word die natuur stil.
Luister na ‘n soet melodi,
en ‘n liefdes verklaring,
gebind tot in ewigheid.
Deur voëlgesang ge-ego tot ver bo die wolke verby.
Tot in die melkweg en skitter soos die aandster.
Woord en musiek,
in harmonie verewig.

Tydloos

Terwyl die wysers tik-tak, tik-tak,
onthou ek weer elke oomblik saam  met jou.
Soms, as ek op een knie staan,
is dit jou hand wat my optrek.
Soms wanneer die trane teen my wang af loop,
is dit jou hand wat dit sagkuns afvee.
Jou lippe brand op myne,
en weereens word ek bewus van die vuur wat in jou brand.
Dis jou liefde wat my moed gee.
Dis jou kyk in my oë wat my toelaat om dieper te kyk.
Jy leer my van omgee.
Liefde gee.
Inspirasie is wat ek uit jou voorbeeld kry.
Ek is die Here oneindig baie verskuldig.
Hy’t my ‘n lewensmaat gegee wat my lief het.
Iemand wat my aanvaar soos ek is.
‘n Vertroueling.
‘n Vriend.

My liefling, dankie vir wie jy is.
Dankie vir jou liefde en omgee.
Ek sien uit na die res van ons leeftyd saam.

Het liefde dan opgehou?

In die stilte hoor ek net jou asemhaling.
Ek is bly jy’s nou rustig,
dis wanneer ek kan ontspan.
Jy lyk so onskuldig wanneer jy slaap,
dan kan ek ook in jou glo,
soos die mense wat net jou maskerkant ken.
Die een waar jy altyd so liefdevol met my praat.
Die breë glimlag wat jou woede woorde bedek.
Niemand sal my glo dat jy my so rond ruk nie.
Niemand sien die gate in my siel,
daar waar jou woorde soos messe deur my steek.
Ek wil jou so graag nog liefhê,
ek wil jou so graag vasdruk en my hart weer heel.
Al wat ek deesdae vir jou voel is minagtig.
Al wat oor is van die mens,
wat jy belowe het om te beskerm,
is net die buitekant wat ek probeer aan mekaar hou.
Die letsels in my siel word verberg deur vrees.
Die blink in my oë is ‘n weerspieëling
van die donker in my siel.
Ek kan  jou nie weg gooi want iets in my bly hoop.
Ek weet die Here hoor my rou snikke.
En ek weet Hy sal jou siel ook weer versag.
Jy praat nie meer met my,
jy deel nie meer jou vreugde.
Net jou pyn kom lê saam met jou woorde op die krop van my maag.
Net jou haat kom in alleen-oomblikke,
en dwaal oor jy moeë liggaam.
Met my laaste krag bid ek vir jou geneesing,
want ek smag na jou liefdevolle aanraking.

Geskryf deur Amanda Boucher opgedra aan al die mense wat deur hul geliefdes mishandel word. Jy mag dit deel maar onthou asb dit kopiereg bly myne. Mag hierdie gedig die wat dit lees aanraak  en dat hulle die nodige hulp sal aanvaar om weer liefde te gee vir die mense om hulle. Let asb op dat die gedig nie op my en my manlief gerig is nie. Ek is die Here elke dag dankbaar vir die lewensmaat wat Hy aan my toe vertrou het.

Dis wanneer ek na jou verlang

Wanneer die maan se silwer strepe die golfies laat oopbars,

en die skuim deur die wind verwaai word:

dis wanneer ek na jou verlang.

Wanneer die blare al tuimelend tot op die klam grond sweef,

dis wanneer ek jou arms om my mis.

Dis wanneer die donderwolke op die horison dreun,

wat ek weer onthou hoe jou stem teen my oortromme weergalm.

Dis op ‘n warm aand soos vanaand;

wat ek weer jou lag bo die branders hoor weerklink.

My gedig ontbreek met die regte woorde,

en selfs die leestekens is nie genoeg om my verlange te beskryf.

Dalk sal jy ook so voel.

En net miskien sal jy my gevoel verstaan.

Vir nou sal ek maar hier eenkant staan:

dalk nog eendag my weg weer na jou toe baan.