Aderley straat

Hartlike lag van gelukkige mense klink op van jou plaveisel.
Hang ‘n oomblik rond soos jou dwalende siele voor dit saam jou duiwe in die blaredak verdwyn. Honderde geheime en liefdes verklarings word deur die wind weggewaai. ‘N meisie sit eenkant op ‘n bankie, haar oë gesluit, haar pyn verborge vir my. ‘N ouer man stop verskeie mense, wys ‘n papier, sy seun is weg. Party gesigte is stroef, bekommerde mense, ander lag skaam vir ‘n aanmerking.
‘N boemelaar en sy vrou sit styf langs mekaar, die diuwe kom nader vir hul daaglikse krummels. Dis maar een kort uurtjie van jou daaglikse roetiene.
En diep binne my wonder ek oor jou naglewe.
Hoeveel hartseer lê oor jou stene in bloed geskryf ?
Hoeveel uitroepe van angs en benoudheid word deur jou blaredak verskuil ? Heer, dis vir hulle wat ek wil bid.
Dis hul gebede, uit wanhoop gebore, wat ek aan U wil opdra.
‘N geliefde wat antwoorde soek,
‘n jongsiel in sy eie doolhof tussen werklikheid en skimme.
Een straat, een oomblik, een verkeerde vriend, een verkeerde besluit… ‘N straat vol hoop met ‘n ou kerk gebou, ‘n voetpad gevul met duisende spore. Dier, plant en mens kruis mekaar se paaie.
En U, Almagtige God, dwaal tussen hul deur op verskeie maniere. Die wind huil deur die bome op ‘n vroeë oggenduur,
iemand kon nie langer die pyn verduur.
Die glimlag van ‘n jong verliefde paartjie in die oggend son bring nuwe hoop. ‘N lag van ‘n kleine kind word weggedra op die wind.
Die geboë figuur van ‘n skraal jong meisie wat ‘n ‘light’ kom bedel. Dit alles, saam met die gedagtes en gevoelens het U ook opgemerk. Heer, dankie vir my lewe en my geliefdes.
Ek bid vir die mense van ons land.

Posted in Gedigte.

Leave a Reply