Aanraking

My liggaam is moeg. My gees voel afgesny. My siel is gebroke. Jou aanraking walg my. Daar was ‘n tyd, ligjare verby, wat jy my laat glimlag het. Maar ek het vergeet hoe dit voel. Daar was oomblikke wat ek nooit sou kon glo dat jy ‘n monster is. Jou woorde, wat jy soos ‘n spies na my gooi, kerf tot diep in my gebroke siel. Woordlose gebede stuur ek in morsekode tot my God, onbewus of Hy dit ontvang. My liggaam ruk en bewe as ek net jou stem hoor aankom. My oë is geslote teen die eerste lente bloeisel want vir my is dit net winter. Voor ander mense glimlag ons. Verskuil my kneusplekke met mooi klere. Kry selfs komplimente. Maar my liggaam pyn. My gees is dood. My siel spartel om te bly leef. Kyk wat jy aan my doen. Dink voor jy my weer beskuldig van niks. My God, my God. Hoor my smeeking. Maak oop die hart van my geliefde wat ek nou so haat. Maak weer sy aanraking sag en liefdevol. By U is niks onmoontlik. U ken die rede waarom my geliefde nou ‘n monster is. Heer, laat hierdie smeeking tot in sy siel insink. Laat U liefde hom weer glo soos in die begin. Ons altwee staan gebroke en verbrokkel rug teen rug. Te moeg om mekaar op te help. Te broos om die ander se liefde te voel. Net te vertrap deur ander se haat. Net te gebroke my God om op te kyk vir U hulp. Raak ons aan in U genade. Heel ons na liggaam en siel. Maak my roggel geluide weer ‘n loflied om U te loof en prys.

Posted in Gedigte.

Leave a Reply